Valke ondersoek Malema
2012-09-16 16:33
Johannesburg – Julius Malema, die geskorste leier van die ANC-jeugliga, word ondersoek vir die aanhitsing van geweld tydens die staking by Lonmin se myn in Marikana in die Noordwes, het die Valke Sondag gesê.
“Ons ondersoek aanklagte wat deur Solidariteit na vore gebring is,” het die Valke se woordvoerder, McIntosh Polela, gesê.
“Hulle het ‘n saak van aanhitsing en intimidasie oopgemaak. Dit is na ons verwys en ons is tans besig om inligting in te samel om ons met die ondersoek te help.”
Sondag is presies ‘n maand nadat die polisie op ‘n groep betogers naby die Marikana-platinummyn losgebrand het en die lewens van 34 mynwerkers geëis en 78 ander beseer het.
Nog 10 mense, onder hulle twee polisiemanne en twee sekuriteitswagte, is in die week voor dit dood.
Werkers dring aan dat hul lone na R12 500 ‘n maand verhoog moet word.
Malema het twee dae ná die skietery in Marikana aangekom.
Hy het aan die skare gesê pres. Jacob Zuma en die polisieminister, Nathi Mthethwa, moet bedank ná die skietery.
Hy het gesê Mthethwa moet bedank omdat die polisie mense onder sy bevel geskiet het.
“Hy moet bedank, want hy het nie daarin geslaag om sy pligte na te kom nie.”
Malema het aan die groep gesê die polisie was veronderstel om hulle te beskerm en nie te vermoor nie.
“Dit het nog nooit vantevore gebeur dat so baie mense in een enkele dag vermoor is nie en dit het normaal geword,” het hy gesê.
Malema, wat sy ondersteuning aan die stakende mynwerkers bied, het hulle aangemoedig om nie op te gee nie en om vas te bly staan by hul vraag vir ‘n salaris van R12 500.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA