Valke krap nóg 'n dwelmnes oop
2011-09-23 14:55
Johannesburg – ‘n Man en ‘n vrou is in hegtenis geneem in verband met Mandrax en toerusting om dwelms mee te vervaardig ter waarde van R11 miljoen.
Volgens lt.kol. Lungelo Dlamini is die verdagtes Vrydag in ‘n huis in Parkmore, Johannesburg, vasgetrek nadat die Valke ‘n maand lank aan dié sending gewerk het.
“Al die chemikalieë en toerusting, asook die eindproduk Mandrax, ter waarde van sowat R11 miljoen is gevind.”
Die paartjie, beide in hul 30’s, sal Maandag na verwagting in die Protea-landdroshof verskyn.
Die klopjag volg nadat ses mense Vrydagoggend in Ridgeway, suid van Johannesburg, met kokaïen met ‘n straatwaarde van R2 miljoen in hegtenis geneem is.
Dlamini sê die twee gevalle word nie aan mekaar verbind nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA