Valke-kaptein se verhoordatum bekend
2012-07-24 23:01
Kaapstad – 'n Voormalige kaptein van die Valke, wat van korrupsie en ander misdade aangekla word, het Dinsdag in die Bellville-handelshof verskyn vir haar verhoordatum.
Die verhoordatum is vir 23 Oktober bepaal.
Kaptein Esmerald Bailey (43) staan tereg op aanklagte van korrupsie, die besit van onwettige ammunisie, die onwettige besit van dwelms en vyf aanklagte van regsverydeling.
Haar vermeende medepligtige Waleed Diedricks is reeds gevonnis nadat hy 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.
Bailey en Diedericks is in hegtenis geneem nadat Bailey ’n polisie-uniform bestaande uit ’n pet, sokkies, baadjie, hemp, twee broeke en ammunisie aan Diedericks gegee het. Hy het dit aan 'n polisiebeampte, wat met 'n geheime operasie besig was, oorhandig in ruil vir 'n bedrag van R4 500.
Die polisie het, nadat hulle Bailey se woonstel deursoek het, op tik beslag gelê, asook op verskeie polisiedossiere en bewysstukke.
Een van dié bewysstukke was van ’n saak in Kirstenhof wat sy nie by die polisiekantoor ingedien het nie.
Volg Nuus24 op Twitter.