Valke het Wa Afrika se oproepe afgeluister
2011-10-01 23:24
Johannesburg – Faith Radebe, inspekteur-generaal van intelligensie, het Sondag bevestig dat die Valke die Sunday Times-joernalis Mzilikazi Wa Afrika se telefoonoproepe gemonitor het.
Radebe het aan die Sunday Times gesê dat toestemming vir dié proses op die regte manier verkry is.
"'n Onderskepping as deel van 'n ondersoek in terme van die Rica-wet is deur die aangewese regter goedgekeur in die geval van [Wa Afrika] in verband met die bewerings oor misdaad, en nie omdat hy 'n joernalis is nie," het sy gesê.
Ray Hartley, redakteur van die Sunday Times, het egter op sy beurt gesê die strafregstelsel is misbruik om Wa Afrika "lastig te val en te intimideer".
"Die regter wat die 'ondersoek' goedgekeur het en die polisiebeamptes wat dit versoek het, behoort hulle koppe in skaamte te laat sak," het Hartley gesê.
Wa Afrika en Stephan Hofstatter, nog 'n Sunday Times-joernalis, is vroeër in die jaar gewaarsku dat hulle telefoonoproepe afgeluister word.
Wa Afrika is in Julie vir twee dae aangehou ná hy oor beweerde onreëlmatighede in die toekenning van polisiehuurkontrakte geskryf het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA