Valke gryp joernalis
2010-08-05 06:28
Die Burger
Johannesburg - Terwyl redakteurs en senior joernaliste by ’n mediagroep beperkings op die vrye media bespreek het, het ’n groot span polisiebeamptes van die Valke dieselfde gebou binnegeloop en ’n senior joernalis in hegtenis geneem.
Die joernalis, Mzilikazi wa Afrika van die Sunday Times, is in ’n motor gedwing en vermoedelik na ’n polisiekantoor gebring.
Die koerant se prokureurs het Woensdagaand ’n dringende brief aan die polisiehoof, genl. Bheki Cele, gestuur om te probeer vasstel waar hy aangehou word.
Wa Afrika het die naweek die hoofberig in die Sunday Timesgeskryf oor Cele se betrokkenheid by die huurkontrakte van die polisiehoofkantoor in Pretoria. Cele het agterna ’n skerp aanval op Wa Afrika geloods en hom bestempel as “’n baie twyfelagtige joernalis”.
Die polisie ontken egter dat sy inhegtenisneming daarmee verband hou en voer aan dit gaan oor klagtes van regsverydeling en bedrog in Mpumalanga.
Senior redakteurs en polisiebeamptes het Woensdagoggend oor en weer op mekaar geskree in die Timesse nuuskantoor toe die polisie fotograwe wou keer om foto’s van Wa Afrika se inhegtenisneming te neem.
Wa Afrika, wie se doopnaam Leonard Ndzhukula is, het volgens die Sunday Timesse prokureurs vroeër ingestem om hom vrywillig by die polisie aan te meld en sy samewerking in die ondersoek te gee.
Ray Hartley, redakteur van die Sunday Times, het gister gesê Wa Afrika is aangekeer “deur ’n groot groep polisiemanne in ’n operasie wat duidelik daarop gemik was om te intimideer”.
“Dit is die ware motief vir wat vandag (gister) gebeur het,” het Hartley gesê.
Wa Afrika se inhegtenisneming het skokgolwe deur die mediagemeenskap gestuur en is wyd veroordeel. Die Valke is die polisie se elite-eenheid, wat die Skerpioene vervang het.
Kol. Musa Zondi, woordvoerder van die Valke, het Woensdagmiddag bevestig die polisie van Mpumalanga het Wa Afrika in hegtenis geneem. Hy is na Mpumalanga gebring.
Volgens hom is nog twee verdagtes Dinsdag in Kabokweni buite Nelspruit in verband met dieselfde klagtes aangekeer.
Zondi het bevestig dié twee is nie joernaliste nie, maar hy wou nie sê waar hulle werk nie.
Op Facebook is daar bespiegel dat die een vir ’n provinsiale regeringsdepartement werk, en die ander is glo ’n onderwyser.
Volgens Zondi sal hulle vandag of Vrydag in die Kabokweni-streekhof verskyn.
Wa Afrika het Dinsdag reeds op sy Facebook-muur geskryf dat gerugte in Mpumalanga rondloop dat hy reeds aangekeer is.
“Hulle beweer dat ek ’n vertroulike dokument het of gesien het, of dalk dit êrens het.”
Intussen het daar op ’n Facebook-groep wat hom beywer vir Wa Afrika se vrylating ’n brief verskyn waarin die premier van Mpumalanga, David Mabuza, oënskynlik sy bedanking aan pres. Jacob Zuma voorlê. Luidens die inskrywing betwis die premierskantoor die egtheid van die brief.
Volgens Zondi is Wa Afrika nie in hegtenis geneem oor iets wat hy die laaste tyd in die Sunday Times geskryf het nie.
“Ons het nog nie die punt in die land bereik dat ons mense in hegtenis neem vir wat hulle skryf nie. Hy is nie in hegtenis geneem vir werk as ’n joernalis nie.”
Die Nasionale Redakteursforum, Sanef, het Woensdag polisielede veroordeel wat fotograwe wou verhinder om foto’s van Wa Afrika se inhegtenisneming te neem.
- Die Burger