Valke bevestig Malema-ondersoek
2011-08-20 23:15
Johannesburg - Die Valke het bevestig dat hulle die leier van die ANC-jeuliga, Julius Malema, vir bedrog en korrupsie ondersoek.
Eyewitness News het Saterdagaand berig dié bekendmaking volg nadat die burgerregte-organisasie AfriForum in Julie 'n klag teen Malema ingedien het.
AfriForum het die korrupsie-klag teen die jeugleier ingedien ná berigte dat hy 'n trustfonds geskep het waarin sakelui en politici geld betaal sodat Malema sy invloed moet gebruik om tenders aan hulle toe te ken.
Die Valke se woordvoerder, Macintosh Polela, het gesê hulle het 'n week gelede besluit om die ondersoek te doen.
Hy sê hulle kan nou bevestig dat 'n volskaalse ondersoek na Malema binnekort sal begin.
Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela het vroeër gesê sy ondersoek berigte dat die konsortium, "One Point"- waarin Malema se trust 'n belang het - geld aan Malema oorbetaal het om tenders te bekom, het RSG Saterdagaand berig.
Volg Nuus24 op Twitter.
– News24