Valke besluit gou oor Mac
2011-11-29 09:02
Kaapstad – Die Valke besluit na verwagting Dinsdag hoe hulle die ondersoek na die “onwettige verkryging van inligting” oor Mac Maharaj gaan benader.
Dit volg nadat City Press die naweek transkripsies van die voormalige Skerpioene se ondervraging van Maharaj, pres. Jacob Zuma se woordvoerder, gepubliseer het.
Die onderhoud het volgens berigte met die omstrede wapenskandaal verband gehou.
Die Valke ondersoek reeds hoe die Mail&Guardian dié inligting bekom het.
City Press het reeds in 2007 die transkripsies gepubliseer, maar Maharaj het toe geen regstappe gedoen nie.
Die koerant het dié artikels en uittreksels van die transkripsie die naweek weer gepubliseer.
Rudi Krause, Maharaj se regsverteenwoordiger, het gesê die publikasie van inligting wat ingevolge art. 28 van die Nasionale Vervolgingsgesagwet bekom is, is ’n misdaad.
Krause het gesê hy en Maharaj sal later vandeesweek besluit wat hulle omtrent die City Press-artikel gaan doen.
McIntosch Polela, woordvoerder van die Valke, het gesê die transkripsies wat City Press gepubliseer het, word oorweeg om te bepaal hoe dit hul ondersoek sal raak.
Dié transkripsies toon onder meer dat Maharaj se verklaring aan die Skerpioene nie strook met besonderhede van sekere betalings wat die veroordeelde bedrieër Schabir Shaik glo aan hom gemaak het nie.
Maharaj was die minister van vervoer toe Shaik glo destyds dié betalings gemaak het.
Na wat berig word, het Maharaj glo “betaling op betaling” ontvang van Shaik, wat vir kontrakte in sy departement gebie het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger