Valke: 'Serwiese sluipmoordenaar vas'
2011-12-27 23:00
Kaapstad – 'n Serwiese man, wat skuldig bevind is vir drie moorde in sy tuisland, het hom Dinsdag aan die Valke oorgegee.
"'n 38-jarige man, wat in Serwië vir drie moorde gesoek word, het hom Dinsdagoggend by die Valke se kantore in Belville oorgegee, het die Valke se woordvoerder, McIntosh Polela, gesê.
Hy het gesê die polisie ondersoek tans hoe die man dit kon regkry om Suid-Afrika in 2007 met 'n vals paspoort en naam binne te kom.
Sy regte naam, Dobrosav Gavric, is sedertdien met die hulp van Serwiese amptenare vasgestel.
Polela het gesê Gavric is in Serwië (in absentia) tot 35 jaar tronkstraf gevonnis weens die moord op twee mense in 2000. Hy het ook 'n bystander gewond wat later in die hospitaal dood is.
Die Suid-Afrikaanse polisie het Maandag 'n lasbrief vir sy in hegtenisneming uitgereik, nadat hulle 'n uitleweringsversoek van Serwië ontvang het.
EyeWitness News berig dat Gavric vermoedelik saam met die onderwêreldbaas Cyril Beeka was, toe hy vroeër vanjaar doodgeskiet is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA