Vakbonde weier regering se nuutste aanbod
2010-09-02 08:03
Johannesburg – Stakende vakbonde het gister ’n nuwe verhogingsaanbod deur die regering verwerp.
“Ons het ingestem om nie die aanbod te aanvaar nie. Ons het meer tyd nodig om met ons lede te praat,” het ’n beampte van Cosatu gesê.
Die staking deur 1,3 miljoen werkers duur nou al drie weke.
Cosatu het vroeër die dag aangedui hy stel ’n eendaagse simpatie-staking deur mynwerkers af om staatsamptenare meer tyd te gee om die nuwe loonaanbod te oorweeg.
Die regering kan dalk sukkel om sy huidige aanbod verder te verhoog, aangesien daar reeds te kenne gegee is die nuutste aanbod is ver bo die inflasiekoers van 3,7% – en dat hy reeds nie kan bekostig wat nou op die tafel is nie.
Dit kan ’n dilemma vir vakbondleiers veroorsaak: Óf hulle oortuig hul lede om die aanbod te aanvaar óf hulle spoor die lede aan om langer te staak, wat die stakendes sonder betaling kan laat en die staat se finansies verder kan knou.
Die nuutste aanbod deur die regering is ’n loonverhoging van 7,5% en ’n behuisingstoelae van R800 per maand.
Die vakbonde eis ’n verhoging van 8,6% en ’n toelae van R1 000.
Cosatu dreig met ’n onbeperkte staking deur al sy lede, insluitend myn- en fabriekswerkers, as daar nie ’n oplossing kom vir die staatsdiensstaking nie.
Suid-Afrika is die wêreld se vierde grootste goudprodusent en grootste platinumprodusent.
Die grootste firmas in dié bedryf – AngloPlatinum, Impala Platinum en Harmony Gold Mining – het genoeg voorrade en sal dus nie ernstig geraak word deur ’n staking van een dag nie.
* In ’n ander dispuut te midde van die stakingseisoen het die National Union of Mineworkers gesê meer as 8?000 werknemers by Northam Platinum sal eerskomende Maandag oor ’n loongeskil begin staak.
Beamptes meen die regering sal waarskynlik gedwing word om elders te besnoei en geld te leen om die staatsdienswerkers te betaal.
Dit sal dit aansienlik moeiliker maak vir die regering om sy doelwit te bereik om ’n agterstand van 6,7% in die bruto binnelandse produk te sny.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger