Vakbonde verwerp Patel se voorstel
2010-11-29 09:10
Kaapstad – Die vakverbond Cosatu se twee grootste geaffilieerde vakbonde – die National Union of Mineworkers (NUM) en die National Union of Metalworkers (Numsa) – het ’n integrale voorstel van die regering se nuwe ekonomiese groeiplan verwerp.
Die NUM beskryf dié plan, wat Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, verlede week bekend gestel het, selfs as “’n grootliks herwonne Gear” – oudpres. Thabo Mbeki se Groei-, Indiensneming- en Herverdelingsprogram wat op ’n vryemarkbeleid geskoei is.
Ook mnr. Irvin Jim, Numsa se hoofsekretaris, eis die regering moet die groeiplan wat Cosatu in September bekendgestel het, in werking stel.
Beide vakbonde is gekant teen Patel se voorstel dat salarisverhogings en bonusse in die private en openbare sektore as deel van ’n omvattende “maatskaplike verdrag” ingeperk word.
“Ons voel dit sal die gaping tussen ryk en arm net vergroot,” het mnr. Frans Baleni, die NUM se hoofsekretaris, gister in ’n verklaring gesê.
Jim het eergister op ’n streekkongres van Numsa in Durban gesê dit sal moeilik wees om so ’n verdrag te sluit in die afwesigheid van ’n omvattende stelsel van bestaansekerheid.
Die SAKP se sentrale komitee, dié party se hoogste gesagsliggaam, was gister in die algemeen positief oor die nuwe groeipad.
Die party het dit as ’n “paradigmaverskuiwing” beskryf en gemaan verskille oor die fyner besonderhede mag nie die plan ontspoor nie.
Volgens mnr. Malesela Maleka, SAKP-woordvoerder, sal die voorstel van ’n beperking op salarisverhogings met takke bespreek word. “Dit is maar net een kwessie (van die plan) wat ons nog in diepte moet bespreek.”
Jim het op sý beurt in Durban gesê die ANC moet Cosatu se voorgestelde groeipad benut om aandag aan die status quo te gee, waar die land se rykdom in die hande van “’n klein minderheid gekonsentreer” is.
Ook die SAKP het hom sterk uitgespreek teen die gevare van “roekelose demagogiese populisme en faksiegevegte wat deur selfverryking gemotiveer word. Ons veroordeel die afstootlike vertoon van materialisme en die vernedering van vroue.”
Volgens Maleka is dié uitspraak ’n algemene teregwysing van ’n kultuur waar sukses gemeet word aan die vermoë om dit te paradeer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger