Vakbonde oorweeg salaris-aanbod die naweek
2010-08-14 07:57
Lede van staatsdiensvakbonde sal die jongste salarisaanbod van die staat die naweek oorweeg voordat hulle finaal besluit of hulle dit aanvaar of met ’n staking voortgaan.
Cosatu-geaffilieerde vakbonde en die onafhanklike arbeidskoukus (ILC) het gister op ’n mediakonferensie in Centurion gesê lede moet besluit of hulle tevrede is met die jongste aanbod van ’n 7%-salarisverhoging en ’n behuisingstoelae van R700 per maand.
As hulle nie daarvoor te vinde is nie, sal planne vir ’n voortgesette staking Dinsdag bekend gemaak word.
Chris Klopper, voorsitter van die ILC, het gesê dit is te vroeg om te sê wat die meeste lede gaan besluit.
Fikile Majola, algemene sekretaris van die vakbond Nehawu, het gesê dit is baie moeilik vir vakbonde om te sê of hulle met die jongste aanbod tevrede is.
“Ons weet nie wat nog in die regering se koffers is nie en of daar niks meer in is nie.”
Op ’n vraag wat vakbonde se boodskap aan lede is wat ondanks die eendagstaking Dinsdag voortgegaan het om te staak, het Mugwena Maluleke, verteenwoordiger van Cosatu, gesê: “Onderwysers het teruggegaan skool toe.”
Volgens hom het amptenare wat voortgegaan het om te betoog dit in hul etensuur gedoen.
Vakbonde het die afgelope week aan twee massabetogings in Kaapstad en Pretoria deelgeneem.
Voorlopige aanduidings is dat uitgebreide stakings kan voortduur as vakbondlede nie die staat se finale aanbod aanvaar nie.
Die vakbonde eis steeds ’n salarisverhoging van 8,6% en ’n behuisingstoelae van R1 000 per maand.
- Beeld