Vakbonde moet opdok vir betogers se skade
2011-09-28 07:03
Johannesburg – Vakbonde wat ten tyde van stakings protesoptogte reël en nie behoorlik voorsorg tref dat die optoggangers nie skade berokken nie, is self vir die skade verantwoordelik wat hul lede veroorsaak, het die appèlhof Maandag bevind.
Dié kwessie het in die laaste jare tot ’n warm debat tussen vakbonde, die polisie en die publiek gelei omdat stakende werkers hulle al hoe meer ten tyde van optogte tot geweld en selfs aanranding en moord wend.
In die geval voor appèlregters M. Navsa, F. Brand, B. van Heerden, N. Mhlantla en C. Plasket het die vervoerwerkersvakbond Satawu aangevoer dit is ongrondwetlik om vakbonde vir hul lede se oproer en geweld verantwoordelik te hou as die vakbond self bloot ’n vreedsame optog gereël het.
Agt mense wat sake op straat in Kaapstad doen, se stalletjies en handelsware is vernietig op ’n byeenkoms van stakende Satawu-lede in Mei 2006 in Kaapstad se middestad. Die staking was “baie gespanne”, het die regters gesê.
Art. 11 van die Wet op die Beheer van Byeenkomste bepaal dat enige oproerskade wat ten tyde van ’n byeenkoms of optog veroorsaak word, vir die rekening van die organiseerder van die betrokke byeenkoms of optog sal wees.
Dieselfde artikel bepaal dat die organiseerder net aan betaling vir die skade kan ontsnap as hy kan bewys dat hy nie met die oproermakers saamgespan het nie, dat die oproer nie binne die raamwerk van die byeenkoms of optog was nie, dat die skade nie redelik voorsienbaar was nie en dat die organiseerders alle stappe gedoen het om oproer te vermy.
Satawu het gesê die vereistes wat die wet stel vir ’n vakbond om nié vir skade verantwoordelik te wees nie, is heeltemal te wyd en ongrondwetlik. Dit is bloot ’n “illusie” dat vakbonde ooit op grond daarvan van betaling vir die skade vrygestel sal kan word.
Die appèlregters het nie daarmee saamgestem nie. Hulle het gesê daar is verskeie voorbeelde wat genoem kan word waar vakbonde hulle op die kwytskeldingsklousule in die wet kan beroep.
Die regters het die vakbond se argument verwerp dat die huidige wetsbepalings vakbonde “bang” sal maak om optogte of byeenkomste te reël en dat hul grondwetlike reg op vreedsame betogings en byeenkomste dus aangetas word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad