Vakbonde ‘hoort nie in weermag nie’
2010-09-24 07:30
Durban – Die ANC stem saam met sy president en die minister van verdediging: Vakbonde in die weermag is ’n euwel.
Siphiwe Nyanda, minister van kommunikasie, het op ’n inligtingsessie hier gesê Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, is besig om die toekoms van vakbonde te ondersoek.
Die parlement se verdedigingskomitee het die departement van verdediging ook gevra om ondersoek in te stel na die kwessie.
Pres. Jacob Zuma het reeds gesê soldaatvakbonde moet verbied word.
Die alliansievennote is gekant teen die verwydering van vakbonde uit die weermag en hou twee uitsprake van die konstitusionele hof voor wat bepaal soldate het ook die reg om aan unies te behoort.
Volgens Nyanda was die geweld tydens soldate se protesoptog na die Uniegebou verlede jaar ’n verleentheid vir die land. “Hulle het die polisie gekonfronteer, ’n hofbevel geïgnoreer en ’n spektakel van hulself en die land gemaak.
“Die ANC kan nie toelaat dat die situasie rondom vakbonde net só gelaat word nie. Vakbonde werk net in lande waar daar al vir honderde jare demokrasie is. Dis hier nie die geval nie.”
Nyanda het gesê die party wag op aanbevelings van Sisulu.
- Die Burger