Vakbonde dreig met treinstaking Maandag
2010-12-04 07:12
Die Burger
Kaapstad - Pendelaars kan hulle staal vir ’n groot staking wat moontlik Maandag in die Wes-Kaap kan plaasvind.
Metrorail-werkers en hul base kon nog nie tot ’n vergelyk kom oor hul werkskedules nie. Die werkers dreig om aanstaande week te staak.
Onderhandelings sal die naweek voortduur.
“Ons gaan die staking na die hele land uitbrei. Die staking wat Woensdag gebeur het, was maar net die begin,” het George Strauss, president van die United Transport and Allied Trade Union (Utatu), gesê.
Nagenoeg 150000 pendelaars in die Wes-Kaap is toe ontwrig nadat werkers besluit het om sonder kennisgewing te staak.
Die Wes-Kaapse regering het intussen ’n gebeurlikheidsplan vir die moontlike staking bekend gemaak.
“Ons het nuus gekry dat die unies moontlik Vrydagmiddag reeds met die staking sou begin. Ons het die plan reeds Woensdag gedurende die eerste staking gebruik en dit sal op bystand bly totdat die staking verby is,” het Hector Elliott, woordvoerder van die departement van vervoer, Vrydag aan Die Burger gesê.
Elliott het aangedui dat die stad en provinsiale regering gaan saamwerk om te verseker dat die staking ’n minimale impak het.
Riana Scott, woordvoerder van Metrorail, het gesê: “Alles gaan nog normaal voort. Die onderskeie verteenwoordigers is nog besig met onderhandelings en dit lyk of daar lig aan die einde van die tonnel is.”
Sy het bygevoeg dat onderhandelings om die dreigende staking af te weer die hele naweek sal voortduur.
“Die werkers het egter aangedui dat hulle, indien die verteenwoordigers nie ooreenkom nie, sal begin staak,” het sy gesê.
- Die Burger