Vakbond sien rooi oor bebloede beddegoed
2011-01-10 14:25
Die verpleegvakbond Denosa is "ontstel" deur mediaberigte wat beweer dat pasiënte en pasgebore babas by twee Oos-Kaapse hospitale tydens die feesseisoen op bebloede beddens moes slaap.
"Ons veroordeel die behandeling van pasiënte onder sulke omstandighede ten sterkste," het Asanda Fongqo, woordvoerder van die Demokratiese Verpleegorganisasie van Suid-Afrika (Denosa), Maandag in 'n verklaring gesê.
Die Sunday Times het vroeër berig dat 'n privaatmaatskappy wat gekontrakteer is om Oos-Londen se Frere- en Cecilia Makhiwane-hospitale se linne te was, nie 'n wasmasjien besit nie.
Die vakbond het gevra vir die "dringende" aanstel van voltydse werkers, insluitend mense wat verantwoordelik sal wees om linne te was.
"Ons het keer op keer gesê die uitkontraktering van dienste soos die was van linne is nie net 'n mors van geld nie, maar dat dit ook 'n negatiewe uitwerking het op doeltreffendheid en gehalte," het Fongqo gesê.
"Die situasie in hierdie hospitale ondermyn ook die mees basiese gesondheidsbeginsels van infeksiebeheer en stel net meer lewens in gevaar."
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA