Vakbond: PTA-treindrywer was reeds gewaarsku
2013-02-02 10:04
Johannesburg – Die treindrywer wat verlede week in ’n stilstaande trein in
Atteridgeville, wes van Pretoria, vasgejaag het, het reeds ’n finale geskrewe waarskuwing teen hom
gehad, beweer die vakbond NTM.
NTM, oftewel die Nasionale Vervoerbeweging, het die bewering Saterdag gemaak
na Suid-Afrika se passasierspooragentskap, Prasa, die vakbond daarvan beskuldig
het dat hy deel was van die onlangse brandstigting op die land se treine.
NTM se president, Ephraim Mphahlele, het Saterdag aan The Citizen gesê die
drywer moes gebruik word weens personeeltekorte tydens die onlangse staking in
die vervoersektor.
“Dit lyk vir ons asof die operasionele bedrywighede van die spoordiens
sukkel weens die stakings,” het Mphahlele gesê.
Prasa-woordvoerder Lawrence Venk wou nie kommentaar lewer op NTM se
bewerings nie.
Hy sê Prasa sal wag tot die ondersoek na die voorval gedoen is. Die agentskap het verlede week gesê kabeldiefstal het vermoedelik tot die ongeluk gelei.
Sowat 200 mense is beseer toe die twee treine verlede Donderdag in Pretoria
gebots het.
Volgens NTM het die drywer se 12-maande waarskuwing, wat hy ontvang het nadat
hy veiligheidsreëls verontagsaam het, beteken hy kon nie bestuur nie.
- SAPA