Vaalrivier-vloedwaarskuwing uitgereik
2011-01-06 14:37
Johannesburg - Die Emfuleni-munisipaliteit in Gauteng en die regering van Mpumulanga het Donderdag vloedwaarskuwings uitgereik nadat riviere begin oorstroom het.
Swaar reënval het daartoe gelei dat die Vaalrivier in Emfuleni en die Krokodilrivier in Mpumalanga oorstroom het.
“Die meeste huise naby die Barrage-sluise is onder water… en ‘n reddingspan is op bystand,” het die woordvoerder van Emfuleni, Klaas Mofomme, gesê.
Meer as 40 gesinne is reeds uit die gebied ontruim.
Die Emfuleni-munisipalitiet sluit twee groot dorpe – Vereeniging en Vanderbijlpark – in, asook verskeie townships soos Sharpeville, Evaton, Sebokeng, Bophelong en Boipatong.
“Die rivier se vloei deur die sluise staan op die oomblik op drie miljoen liter per sekonde.”
Verskeie paaie in die gebied is gesluit weens die vloede.
Dit sluit die Brandmuller-, Golf-, Kliprivier- en Genl. Hertzog-pad in.
Die Potchefstroom/Vereenigingpad is die enigste toeganklike straat in die gebied.
“Motoriste word aangeraai om nie die krag van die die waters in die vloedgebiede te onderskat nie en eerder alternatiewe roetes te gebruik,” het Mofomme gesê.
Die Kwena-dam, wat die Krokodilrivier voed, is meer as 105 persent vol.
Die minister van waterwese, Edna Molewa, sal na verwagting binnekort by die Vaaldam besoek aflê om te sien hoe die watervlakke beheer word.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA