Vaalrivier is in vloed, maar dié waarskuwings val op dowe ore
2011-01-07 10:00
Johannesburg - Die Vaalrivier is in vloed en ten spyte van waarskuwings swem kinders in die water en waag ander mense dit om paaie te gebruik wat weens die oorstromings in riviere omskep is.
In Drie Riviere (Vereeniging) is verskeie paaie gesluit nadat die Vaal- en die Kliprivier hul walle oorstroom het. Gholfweg, Generaal Hertzog- en Houtkopweg is gesluit. Verskeie kinders het egter gistermiddag in die rivierwater geswem wat oor Houtkopweg stroom.
“Inwoners moet dié gebiede vermy omdat dit gevaarlik is.
“Motoriste word aangeraai om nie deur die water te ry nie, want die stroomsterkte kan onderskat word,” het mnr. Klaas Mofomme, woordvoerder van die Emfuleni-munisipaliteit, gesê.
Meer as 40 families wat naby die Vaal Barrage-sluise woon moes eergisteraand en gisteroggend hul huise verlaat.
Volgens Mofomme is van die huise onder water.
Nog vier sluise is gister 12:00 en 15:00 by die Vaaldam oopgemaak. Die Vaaldam was gistermiddag laat 108% vol en 17 van sy 60 sluise was oop.
Volgens Mofomme is 2,5 miljoen liter water per sekonde gister uit die Vaaldam in die Bar-rage gelaat. Die uitvloei is 90 keer hoër as gewoonlik.
Gistermiddag laat het 3,2 miljoen liter water per sekonde die Vaaldam binnegevloei. Die Emfuleni-munisipaliteit se water-reddingspan en rampbestuur is op bystand vir enige noodgeval.
Roeiers van die Bishop Bavin-roeiklub van Johannesburg moes gister hul jaarlikse oefenkamp van sewe dae kortknip omdat die rivier in vloed is. Die 50 roeiers het Maandag by die Tropicana River Lodge langs die Vaalrivier in Vanderbijlpark ingeboek vir ’n week lange oefensessie ter voorbereiding op die nasionale roeikampioenskap.
“Ons het geweet dat die water gaan styg, maar nie verwag dat die rivier in vloed gaan wees nie. Ons het een van ons motorbote verloor wat deur die vloed meegesleur is,” het Ben Tipney, roei-hoof aan Beeld gesê.
Die roeiers kon Maandag en Dinsdag drie sessies op die rivier inwerk en het eergister op “droë grond” geoefen.
- Beeld