Vaal-vloedwater sleur dakke mee
2011-01-08 07:50
Vanderbijlpark - Die kolkende, vuil water van die Vaalrivier het ’n pad van verwoesting by verskeie eksklusiewe huise, boothuise en ’n R25 miljoen-ontwikkeling agtergelaat.
’n Drywende grasdak, veiligheidsbaadjie, roeispaan, drom en huis se dak is van die goed wat die laaste paar dae stroomaf op die rivier gesien is.
In Vaaloewer is 20 van die 25 dupleks-eenhede se grondverdieping in die Goose Bay Canyon-ontspannings-en-bootklub onder water.
Die watervlak het in vyf van dié eenhede tot op die eerste verdieping gestyg. Volgens Martin Struwig, huiseienaar in Vaaloewer, staan die water ongeveer ’n meter diep op die eerste verdieping van dié vyf eenhede. Die eenhede is deel van ’n R25 miljoen-ontwikkeling.
20 boothuise is ook onder water. Die rivier het gister deur tien van die laagliggende huise in Kingfisher Bend gestroom. 25 huise staan hier teen die rivier.
Dennis Wilson is die eienaar van die Candy’s Lodge- vakansieoord in Vaaloewer. Candy’s Lodge se kroeg op die oewer van die Vaalrivier is onder water en net die lapa se grasdak is nou sigbaar. “Ons het nie tyd gehad om die inhoud uit te haal nie.
’n TV, kasregister en meubels is daarin,” het hy aan Beeld gesê.
“Modder en nogmaals modder” is wat hy in en om die rondawel verwag wanneer die riviervlak weer normaal is.
Verkeer het gistermiddag op die Baddrift-brug in Vanderbijlpark tot stilstand gekom toe Vaaldriehoekers in hul motors op die brug stilgehou het om na die rivier te kyk.
Die watermassa by Stonehaven on Vaal het die kapel verswelg en die water het tot langs die saal gestyg.
Die Spirit of Jen, die grootste boot op die rivier, is stewig vasgemaak en geanker om die watermassa te weerstaan. Die boot is omring deur die vloedwater.
Ondanks die verwoesting en drama was daar gister ’n bruilof by Stonehaven.
’n Groot deel van die gholfbaan by Riviera-on-Vaal is onder water en nog paaie in Vereeniging is gister vir verkeer gesluit.
Volgens die departement van waterwese kan van die Vaaldam se sluise moontlik van Maandag toegemaak word. Die dam was gistermiddag laat 110% vol en 17 van sy 60 sluise is oop. By die Vaal Barrage is 31 van die 36 sluise oop.
- Beeld