VSA dink Zuma is berekend
2011-08-26 08:06
Kaapstad – Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om die vervolging van pres. Jacob Zuma te staak “is op baie maniere een van Suid-Afrika se hartseerste dae”.
Só lui een van die duisende vertroulike diplomatieke notas van die Amerikaanse ambassade in Pretoria aan dié land se minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, wat Woensdag deur WikiLeaks bekend gemaak is.
’n Magdom van inligting oor Amerikaanse diplomate se insigte in die tydperk toe oudpres. Thabo Mbeki deur die ANC “herroep” is, die aanloop en gevolge van die verkiesing in 2009 en enkele notas oor die politieke situasie in 2010, skets ’n grootliks negatiewe prentjie van Suid-Afrika.
’n Nota in April 2009 gee breë agtergrond oor Zuma se regsprobleme en sluit af deur te verduidelik dis jammer hy word nie aangekla nie.
Dít beteken sy ampstermyn sal onder verdenking wees en is ’n bewys van die mate waartoe instellings soos die NVG verpolitiseer is.
Dit is egter ’n ontleding oor Zuma wat ’n fassinerende blik gee oor die Amerikaners se beskouing van die president, wat hulle as uitgeslape en berekend beskou.
Dié Mei 2009-nota, getitel The life and times of South Africa’s next president en gerig aan Clinton, die nasionale veiligheidsraad (NSC), spioenasiediens (CIA) en verdedigingsintelligensie (DIA), is nie positief oor die vooruitsigte vir ’n Zuma-regering nie.
Daar word gemeen Suid-Afrika se gerespekteerde howe en aktiewe burgerlike samelewing sal verseker dat die land – ten slegste – deur Zuma se ampstyd “sal strompel”.
“Suid-Afrikaners het al baie meer en groter tragedies oorleef as ’n verkose regering met ’n amperse tweederde-meerderheid,” lui die nota.
Die ambassade se politieke seksie gee onder die opskrif Keys to Zuma’s personality ’n uiteensetting van ses redes waarom Zuma daarin kon slaag om sy teenstanders te troef en staatshoof te word.
Die Amerikaanse regering is meegedeel Zuma kon in sy konflik met Mbeki en uitgerekte hofstryd staatmaak op ’n uitgebreide en magtige netwerk van familie, sakelui en politici en dat hulle geredelik steun aan hom gegee het.
Hy het ook nooit fokus verloor nie. “Hy het begryp die politieke sameswering teen hom is daarop gefokus om hom úít die ANC te verwyder en die ANC ván hom te verwyder.
Sy reaksie moes wees om die party se waardes te deurleef en die verpersoonliking van ’n ANC-kader te word.
“Dit het hy reggekry.”
Hy het take doeltreffend gedelegeer sonder om sy plig te versuim.
“Zuma is uitstekend daarmee om werk aan dié rondom hom uit te deel.”
Dit was volgens die ambassade egter die manier waarop hy die publiek aan sy kant gekry het, wat die deurslag gegee het.
Toe hy besef “die media is teen hom” het hy die rol van die dignified underdog vertolk.
Voorts het hy nooit sy humeur verloor nie en politieke aggressie kieskeurig aangewend.
“Dít strook met ’n leier wat bewus is van sy sterk punte – baie knap.”
Elisabeth Trudeau, woordvoerder van die Amerikaanse ambassade, sê hulle gaan geen kommentaar oor die inhoud lewer nie.
Sy het egter beklemtoon diplomatieke notas is onvolledige brokkies inligting wat daagliks Washington toe gestuur word.
“Dit verteenwoordig nie beleid nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad