VS-leraar by grafte dood gekry
2010-06-28 10:59
Volksblad
Bothaville. – ’n Geliefde predikant, wat met sy drafskoene aan ’n bekende gesig in dié dorp was, is Saterdagmiddag op sy knieë langs sy motor in die dorp se begraafplaas gekry.
Die gemeenskap is geskok oor die skielike dood van ds. Cobus Boshoff (47).
Boshoff en sy vrou Elizabeth het ’n paar jaar gelede die Bothaville.com-gemeente op die dorp op die been gebring. Hy het destyds opgewonde aan Volksblad vertel hoe dié kerk die ou Hotel Enkelden gekoop het en in ’n kerk omskep het.
By die ingang na die kerk is die woorde: Hierdie is nie ’n museum vir heiliges nie, maar ’n hospitaal vir sondiges.
Elizabeth sê sy het Saterdag ’n SMS-boodskap van haar man gekry. “Hy het gesê daar is ’n brief vir my op sy lessenaar in die kerk. Ek is soontoe en toe ek die brief kry, het ek besef iets is fout. Ek het dadelik na hom begin soek en die Heilige Gees het vir my gesê hy is in die begraafplaas.”
Met haar aankoms daar, was die polisie reeds op die toneel.
Puleng Motsoeneng, polisiewoordvoerder, sê ’n vrou wat die begraafplaas besoek het, het op Boshoff se motor afgekom.
Sy het dadelik die polisie in kennis gestel. Hy het sy lewe klaarblyklik met ’n .22-geweer geneem.
Elizabeth sê almal wat haar man geken het, het geweet hoe lief hy vir hardloop was. “Sonskyn, sneeu of reën, jy sou hom op die pad kry. Soms was die marathons sonder probleme en dan het hy dit lag-lag voltooi, maar ander kere was die pad net te lank en het hy siek geword soos ná die laaste Comrades.”
Sy hou vas aan Hebreërs 12:1 wat oor die wedloop van die lewe gaan.
Sy sê Cobus het met die laaste wedloop van die lewe gekies om liewers huis toe te gaan. “Vir hom is die marathon nou verby en daar is plek vir hom in die Vader se huis. Dankie aan elkeen wat die wedloop vir Cobus makliker gemaak het en vir dié wat hom in die goeie en slegte tye aangemoedig het.”
Elizabeth sê sy en haar drie dogters, Iante (22), Nicole (18) en Simoné (17), is nog besig met die wedloop van die lewe en sy glo wanneer hulle eendag reg is, hulle ook na die Vaderhuis sal gaan.
Sy sê die gemeente gaan voort soos altyd. ’n Nuwe predikant sal binnekort by hulle aansluit.
Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.
- Volksblad