VS-dirigent verloor stryd teen kanker
2011-03-14 08:40
Bloemfontein - Christopher Dowdeswell, sedert 2003 die artistieke direkteur en dirigent van die Vrystaatse Simfonieorkes (VSO), is Vrydag ná ’n nege maande lange stryd teen kanker in sy huis in Kaapstad oorlede.
Hy is in Junie verlede jaar met slukdermkanker gediagnoseer.
Sy laaste optrede saam met die VSO was in Julie verlede jaar op die Volksblad-kunstefees toe hy Swanemeer – die ware verhaal met Nataniël as verteller in die Odeion-teater in Bloemfontein gedirigeer het.
Dowdeswell was 20 jaar by die VSO betrokke, waarvan die laaste nege jaar heeltyds. Hy is in 2003 as artistieke direkteur/dirigent aangestel.
Dié Brits-gebore musikus het in Londen, Duitsland en Monte Carlo gestudeer waarna hy dirigeerposte in Augsburg, Dortmund en Darmstadt in Duitsland beklee het.
In 1981 is hy na Suid-Afrika gelok toe hy die pos van resident-dirigent van die destydse Kruik-orkes in die Nico Malan-operahuis (nou ArtsCape) aanvaar het.
Dowdeswell was voor sy betrokkenheid by die VSO tien jaar lank die artistieke direkteur en dirigent van die Oos-Kaapse Filharmoniese Orkes.
Hy laat sy vrou, Maggi, en twee seuns, Simon en Matthew, agter.
’n Begrafnisdiens word Vrydag in Rondebosch vir Dowdeswell gehou.
- Volksblad