VS boere: 'Ons is hier om te bly'
2011-06-23 20:59
Bloemfontein – Vrystaatse boere is in Suid-Afrika om te bly en om ‘n positiewe bydrae tot die land te maak, het die Vrystaat Landbou-vereniging Donderdag gesê.
Dan Kriek, adjunkpresident van Vrystaat Landbou, het gesê die markte het reeds gereageer op Julius Malema, president van die ANC-Jeugliga (ANCYL), se opmerkings oor nasionalisering en grondhervorming by dié liggaam se onlangse nasionale konferensie.
“Dit was nie op ‘n groot manier nie, so ek dink mense raak gewoond aan hierdie stellings,” het Kriek gesê met verwysing na dié opmerkings.
Kriek het gesê Malema se opmerkings oor nasionalisering en grondhervorming word nietemin in ‘n ernstige lig beskou. Leiers soos Malema behoort volgens hom meer versigtig te wees met wat hulle sê.
Volgens Kriek fokus die boergemeenskap eerder op opmerkings wat President Jacob Zuma by die konferensie gemaak het.
Suid-Afrika se groeiplan, werkskepping en voedselsekerheid is waarop hulle fokus.
Adjunkpresident Kgalema Motlanthe se stelling dat grondhervorming binne die grense van die grondwet bespreek moet word, is presies hoe Vrystaatse boere die kwessie beskou, het hy gesê.
Volgens Kriek sal Vrystaatse boere eerder op beter alternatiewe vir grondhervorming fokus as dié wat deur Malema voorgestel is.
“Ons het ons planne in verskeie stadiums sedert 2005 aan die regering voorgelê en in ons mening het hulle dit nie ernstig genoeg oorweeg nie,” het hy gesê.
Boere sal beter alternatiewe, insluitende finansiering en ondersteuning aan boere wat grondhervorming betref, oorweeg, het Kriek gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA