VN: SA is mensehandel-magneet
2010-03-18 02:38
Johannesburg - Suid-Afrika se oop, kosmopolitiese samelewing is 'n teelaarde vir mensehandel, het die Verenigde Nasies (VN) Woensdag gesê.
"Suid-Afrika word vir mensehandel gebruik weens die land se (tegniese en reis-) infrastruktuur.
"Die land se kosmopolitiese samelewing word gebruik om misdaad te fasiliteer," het Johan Kruger, die VN se kantoor oor dwelms en misdaad (UNODC) se nasionale projekkoördineerder, gesê.
Volgens Kruger word Suid-Afrika se liberale, demokratiese omgewing en ekonomiese mag gebruik om winsgewende mensehandelprojekte te ondersteun.
Kruger het die opmerkings by 'n werkswinkel oor internasionale samewerking in mensehandel en -smokkelary in Johannesburg gemaak.
- Sapa