VL en boere vergader ná plaasmoord
2011-03-18 07:46
Tweeling - Pro-aktiewe optrede is die oplossing vir plaasmoorde en die groot sukses van Vrystaat Landbou (VL) se intelligensiediens is die bewys daarvan.
Só het Hennie Gerber, VL se intelligensiehoof, Donderdag hier aan boere gesê op ’n VL-noodvergadering oor veiligheid ná die onlangse moord op Helgard Muller van Frankfort.
Danksy die werk van VL se intelligensiediens is 227 moontlike aanvalle die afgelope agt jaar voorkom.
In 2010 was daar sewe moorde op boere wat nie lede van VL was nie, terwyl geen VL-lid vermoor is nie.
Gerber het ’n groot groep boere van die Oos-Vrystaat en selfs verder toegespreek.
Hy het gesê dat elke boer paraat moet wees teen moontlike plaasaanvalle.
Lede van VL is outomaties deel van ’n veiligheidsplan wat ook die dienste van die intelligensiediens insluit.
“Maar geen stelsel is ’n waarborg dat niks met jou gaan gebeur nie. Daarom moet julle betrokke raak en julself op die hoogte kry. Weet jy wat jy alles kan en mag doen?”
Hy het gesê misdadigers is onder die indruk dat daar geld en vuurwapens op plase is.
Dit is een van die hoofoorsake van moorde.
“Werkloosheid is nie die hoofoorsaak nie.
“Die meeste moorde word deur plaaswerkers en stukwerkers (deeltydse werkers) gepleeg. Hulle is nie werkloos nie, hulle werk vir jou.”
Gerber sê ’n klein persentasie van moorde word uit wraak gepleeg.
“Dit is vir my swaar om te sê, maar die oorsake hiervan is... verhoudings oor kleurgrense heen, onwettige transaksies waarby boere betrokke is, swak verhoudings en arbeidsgeskille. Die nuwe voorgestelde wet oor verblyfreg gaan ’n groot probleem word. Dit sal ernstig gehanteer moet word.”
Die redes waarom moorde dikwels so wreedaardig is en vroue verkrag word, is volgens Gerber nie duidelik nie, maar hy reken dit het te doen met mag.
“Van hulle (misdadigers) het nog nooit ’n wapen gehad nie. Nou kry hy skielik so ’n ding in sy hande. Dit gee hom mag.
“Hy wil domineer. Daarom wag hulle ’n gesin vir ure lank in en word die mense op die wreedste denkbare wyse verneder, verkrag en vermoor.”
Gerber het ook gesê dat boere nie moet dink hulle is die enigste slagoffers nie.
“Ons kon uit al ons ondersoeke nog nooit ’n derde mag kry wat betrokke is by plaasmoorde nie. Almal in Suid-Afrika steier onder misdaad.
“Die staat sal moet opstaan as hy nie die land wil laat ten gronde gaan nie.”
Heelwat boere het gevoel daar word te veel gepraat en te min gedoen rondom plaasmoorde.
Dan Kriek, vise-president van VL, sê boere sê dikwels VL doen te min.
“Hulle sê ons moet ons trekkers vat en die paaie toetrek.
“Ons (VL) gaan niks doen wat teen die wet is nie. Ons moet dalk eerder kyk na lydelike verset. Aan die anderkant moet ons onsself nie isoleer van die res van Suid-Afrika wat onder misdaad deurloop nie.”
Kriek het hom verder uitgespreek oor Steve Hofmeyr se uitlatings oor swart mense.
“Steve het ná die Lindley-moorde dinge aan swart mense toegedig wat jy aan enige persoon kan toedig.
“Ons by VL wil nie hierdie rassekaart speel nie.”
- Volksblad