VF+ verwag 'sekerheid' in staatsrede
2012-02-08 12:11
Kaapstad – “Sekerheid” en “hoop” is wat die VF+ van pres. Jacob Zuma se staatsrede verwag met die opening van die parlement in die Moederstad.
“Sekerheid dat beleggings en eiendomsreg in Suid-Afrika veilig sal wees en hoop dat die regering bereid is om nuut na ekonomiese maatreëls te kyk wat tans groei demp,” het dr. Pieter Mulder, leier van die party, Woensdag in ‘n verklaring gesê.
Mulder meen sekerheid geld veral vir buitelandse beleggers, plaaslike mynbesture en Suid-Afrikaanse landbouers wat die afgelope tyd na uitsprake oor die nasionalisering van myne en grond moes luister.
Die hofsaak oor die Wal-Mart-samesmelting en verwarrende ANC-uitsprake het verder bygedra tot hierdie onsekerheid, het hy gesê.
Hy meen ’n duidelike uitspraak teen nasionalisering en vir eiendomsreg sal sekerheid en vertroue help terugbring.
“Die bereidheid van die ANC om die populisme van die Malema-denkendes aan te spreek, bring reeds hoop vir die toekoms. Dit moet in die staatsrede aangevul word met duidelike uitsprake oor nuwe denke ten opsigte van werkskepping en ekonomiese groei.”
Volgens Mulder is die “sosialistiese drome waar die regering alleen werk probeer skep en die privaatsektor met wette probeer dwing om dieselfde te doen, ’n mislukking.”
Hy sê die oplossing hiervoor is “ekonomiese vryheid vir die privaatsektor en intensiewe infrastruktuurskepping deur die staat.”
“Wat Suid-Afrika nodig het, is ’n regering wat waagmoedig nuut dink en aktiewe leiding neem uit ons ekonomiese probleme uit. Dit behels onder andere nuwe denke oor arbeidswetgewing, regstellende aksie, bemagtiging en infrastruktuurskepping.”
Die parlementsopening vind Donderdagaand plaas.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24