VF+ skors voorsitter oor gelddispuut
2012-11-17 11:30
Johannesburg – Die voorsitter van die VF+ se finansiële komitee is geskors voordat hy ’n toespraak voor die party se federale raad kon maak, het Beeld Saterdag berig.
Taljaard sou na bewering in sy finansiële verslag onder meer aanvoer die federale dagbestuur, onder wie die partyleier, dr. Pieter Mulder, het versuim om op te tree nadat Mulder se broer, dr. Corné Mulder, en ander Wes-Kaapse partyleiers geld uit ’n groot skenking verkeerd gedeponeer het.
“Ek is geskors sodat ek nie aan die lig kan bring wat die partyleierskap onder die mat wil vee nie,” het Taljaard gesê.
In sy toespraak sou hy na verwagting rapporteer sommige provinsiale leiers weier om hul provinsies se bankstate en debietorder-inkomste te openbaar, en dat besonderhede oor geldelike partybydraes deur LP’s moeilik is om na te speur.
’n Verdere dispuut blyk ’n bedrag van R15 000 (10% van ’n skenking van R150 000) te wees wat dr. Corné Mulder kontant by die bank sou trek en as kommissie aan Taljaard sou betaal.
Taljaard het gesê hy het die geld nooit ontvang nie.
Die party se federale raad, wat bestaan uit verteenwoordigers van al nege provinsies, vergader Saterdagoggend in Centurion.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA