VF+ kla Jhb-metro aan oor vullis
2011-04-21 14:51
Pretoria – Die Vryheidsfront Plus gaan die ANC-beheerde Johannesburgse metropolitaanse raad aangee by die Verbruikerskommissie vir swak en afwesige dienslewering weens die ophoop van rommel en vullis in die stad, het Franco de Lange, die VF+ se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, gesê.
Die staking by Pikitup, die stad se diensleweraar wat vullis moet verwyder, het inwoners ontstoke gehad as gevolg van die onhigiëniese toestande wat ontstaan het.
Volgens De Lange is die Verbruikerskommissie, wat tot stand gekom het in terme van die Wet op Verbuikersbeskerming 68 van 2008, by magte om die Johannesburgse metro te beveel om ‘n deel van die vullistariewe aan die belastingbetalers in die stad terug te betaal.
"Die VF+ gaan namens alle belastingbetalers in Johannesburg versoek dat daardie gedeelte van die betaalde tariewe waar geen of gebrekkige dienslewering deur Pikitup plaasgevind het, aan die mense terugbetaal word. Ons is van plan om die Verbruikerskommissie te toets en te kyk of hulle hul wetlike mandaat om die verbruiker teen die staat te beskerm gaan nakom," het De Lange gesê.
Volg Nuus24 op Twitter