VF+ daag ANC uit oor Aurora-baas se R1 m.
2011-04-12 09:42
Johannesburg - Die VF+ het die ANC Maandag uitgedaag om die R1 miljoen wat die Aurora-baas glo Vrydagaand aan dié party geskenk het, terug te gee.
Pieter Groenewald, parlementslid van die VF+, het Maandag dié skenking van Khulubuse Zuma aan die ANC as “skandalig” bestempel en gesê “terwyl werkers by Aurora se Grootvlei- en Orkneymyne honger ly omdat hul salarisse nie aan hulle uitbetaal word nie, is daar R1 miljoen beskikbaar vir dié party”.
Gideon du Plessis, adjunk-uitvoerende hoof van die vakbond Solidariteit, het gesê enige politieke party wat geld van Zuma of enige ander direkteur van Aurora ontvang, aanvaar “bloedgeld”. “Dit behoort geweier te word. Zondwa Mandela, nog ’n direkteur, is die kleinseun van oudpres. Nelson Mandela. Zuma is pres. Jacob Zuma se neef.
Die Sunday Times het Sondag berig Zuma was Vrydagaand op ’n geldinsamelingsgeleentheid vir die ANC in Zimbali, noord van Durban, en het by dié geleentheid R1 miljoen aan dié party geskenk.
Luidens die koerant is die geleentheid gehou by die vyfster-Fairmond-hotel-en-ontspanningsoord.
Dit is bygewoon deur ANC-leiers, sakelui wat by swart ekonomiese bemagtiging baat vind en korporatiewe hoofde.
Die gaste is getrakteer op Hennessy-cognac, visgeregte, geroosterde lam en beesvleis, asook gebakte pere en verskeie soorte fyngebak vir nagereg.
Groenewald, wat ook provinsiale leier van die VF+ in Noordwes is, het gesê dit is duidelik Aurora probeer sy invloed by die ANC-regering koop. Dit is voorts duidelik waarom die regering “traag” is om op te tree teen Aurora ondanks die oortredings van landswette.
Groenewald het gesê die eienaars van Aurora het ’n “arrogante en uitdagende houding en misbruik die regstelsel om die betaling van salarisse te vertraag”.
“Ministers en die ANC maak altyd ’n groot ophef oor boere wat nie hul werkers die minimum loon betaal nie, maar Aurora betaal glad nie sy werkers nie.
“Hieroor is die ANC stil en dit is duidelik waarom, natuurlik omdat die eienaars familiebande met pres. Jacob Zuma het.
“Indien die ANC ernstig is oor werkskepping en die belange van werkers op die hart dra, behoort hy dié skenking te weier,” het Groenewald gesê.
Solidariteit het Zuma vroeër vanjaar uitgedaag om net drie van sy vloot van 19 luukse motors te verkoop en dié geld te gebruik om die werkers se agterstallige salarisse te betaal.
The Times het vroeër vanjaar berig Zuma besit onder meer twee BMW 750i-motors van R1,1 miljoen elk, ’n Range Rover Sport van R934 500, ’n Mercedes-Benz Vito en drie Mercedes-Benz Sprinters. Hy is ook al in ’n weelderige Mercedes-Benz SLS 63 AMG van meer as R2,5 miljoen, ’n Bentley van R3 miljoen en ’n Rolls-Royce gesien. Daar kon egter nie bevestig word of dit sy motors is nie.
Zuma het nie Maandag op oproepe gereageer nie.
- Volksblad