VF+ beoordeel staatsrede
2010-02-12 13:31
Kaapstad - "‘n Gedeelte van president Zuma se staatsrede was die herhaling van baie van die wittebroodbeloftes waarmee hy sy termyn begin het. Hierdie voorstelle was vaag en gaan nie ons probleme oplos nie," het Pieter Mulder leier van die VF Plus gesê.
Aan die positiewe kant was daar egter wel gedeeltes waar hy baie spesifiek meetbare doelwitte en teikens gestel het.
"Wat onderwys betref is daar byvoorbeeld baie spesifieke teikens ten opsigte van geletterheid en syfervaardigheid gestel wat teen 2014 bereik moet word. Die positiewe daarvan is dat opposisiepartye die regering se aansprake op sukses teen sulke teikens kan meet," het Mulder gesê.
"So spesifiek as wat die onderwysdoelwitte was, so vaag was die voorstelle om misdaad te bekamp. Om 10% meer polisielede aan te stel sonder spesifiek meetbare teikens ten opsigte van hulle opleiding en suksessyfer, gaan nie die misdaadprobleem oplos nie.
"Dit is ‘n prestasie dat 480 000 werkgeleenthede geskep is. Daar moet egter onthou word dat dit tydelike werkgeleenthede is -- byvoorbeeld ‘n persoon wat met ‘n rooivlag langs ‘n padkonstruksieprojek staan. Hiermee word die probleem van werkloosheid tydelik oorbrug en aangespreek maar geen permanente werk word so geskep nie," het hy gesê.
Mulder meen verder dat die beskerming van armes teen die verhoging van elektrisiteitsverhogings positief is.
"Zuma het die opwinding rondom Mandela se vrylating en die Wêreldbeker-sokkertoernooi baie doeltreffend gebruik om ‘n sekere euforie rondom sy staatsrede te skep. Die probleem hiermee is dat dit op die kort termyn die onaangename werklikhede van korrupsie, die gebrek aan dienslewering en ander probleme wegsteek. Na die sokkertoernooi gaan al hierdie probleme egter nog steeds met ons wees," meen Mulder.