VF+: Zuma-woorde onsensitief
2011-02-07 22:00
President Jacob Zuma gee aanstoot aan baie Christene as hy godsdienstige begrippe soos hemel en hel vir politieke voordeel en vir humor doeleindes gebruik, het die Vryheidsfront Plus in 'n verklaring bekend gemaak.
"Suid-Afrika is ’n land met groot godsdienstige en kulturele verskille. Daarom is dit altyd ’n fout as politieke leiers op ’n lompe wyse en sonder sensitiwiteit vir hierdie verskille, opmerkings oor hierdie sake probeer maak.
"Godsdiens kan nie van politiek geskei word nie, maar dit bly gevaarlik vir enige individu of politieke party om godsdiens vir hom of haar alleen te wil opeis," het dr. Pieter Mulder, leier van die VF+ Maandag gesê na aanleiding van president Zuma se aanmeerkings die afgelope naweek.
Volgens Mulder is dit ironies dat die ANC en die DA, wat byvoorbeeld albei hewige kritiek moes verduur oor hulle on-Christelike standpunte oor aborsie en hulle grondwette, nou godsdienstige standpunte voor die verkiesing inneem.
"Dit is gevaarlik om die spot te dryf met godsdienstige begrippe. Die Deense koerant, die Jyllands-Posten, het hierdie les op die moeilike manier geleer met hulle godsdienstige Islam-spotprente wat ’n internasionale krisis veroorsaak het. Suid-Afrika het genoeg probleme en potensiële konfliksituasies sodat president Zuma nie met onverantwoordelike opmerkings nog nuwes moet byvoeg nie," het Mulder bygevoeg.
Volg Nuus24 op Twitter.