VF+: Motlanthe wil plaasmoorde regverdig
2009-11-29 16:01
Johannesburg - Die Vryheidsfront Plus het adjunk-president Kgalema Motlanthe daarvan beskuldig dat hy plaasmoorde probeer regverdig.
“Adjunk-president Kgalema Motlanthe soek regverdiging vir plaasmoorde.”
“Geen moord kan ooit geregverdig word nie,” het Werner Weber, die VF + woordvoerder oor landbou, gesê.
Motlanthe het kommentaar gelewer op die oorsake van xenofobiese aanvalle op plase.
“Van die mees geweldadige plaasmoorde word deur uitlanders, wat vroeër slegte behandeling op die plaas ontvang het, gepleeg,” het Motlanthe gesê.
“Hulle word uitgebuit en geforseer om sonder betaling te werk.”
“Natuurlik gaan hulle dan terug en pleeg die mees grusame moorde.”
“Dit is juis om die rede dat ons die uitbuiting van uitlanders op plase moet teëstaan,” het hy gesê.
Weber het Motlanthe gewaarsku dat hy besig is om te veralgemeen.
Hy het bygevoeg dat in meeste gevalle, die moordenaars en hul slagoffers, mekaar glad nie voorheen geken het nie.
- Sapa