VF+: 'Doodsklok vir Afrikaans by Unisa'
2011-03-30 21:00
Johannesburg - Die Vryheidsfront Plus (VF+) het met skok verneem dat die Departement van Kommunikasiewetenskappe aan UNISA van plan is om ‘n voorstel by die universiteit se Senaat in te dien om alle kursusse van hierdie departement vanaf 2012 slegs in Engels aan te bied.
Na wat verneem word gaan hierdie aangeleentheid tydens ‘n vergadering van die taalkomitee van die senaat op 4 April 2011 bespreek word.
UNISA se taalbeleid maak tans voorsiening vir Afrikaans en Engels as onderrigmedium.
“Indien die betrokke departement daarmee slaag om Afrikaans as onderrigmedium uit sy departement te verwyder, baan dit die weg vir totale verwydering van Afrikaans aan UNISA. Dit is onaanvaarbaar dat daar teen Afrikaanse studente gediskrimineer word. Hierdie studente onderneem hul kursusse weens bepaalde redes deur korrespondensie-onderrig aan UNISA en het geen alternatiewe universiteit nie,” het Wouter Wessels, VF Plus-jeugwoordvoerder gesê.
Die VF+ sal dringende gesprekke met UNISA se bestuur rakende hierdie kwessie belê.
Volg Nuus24 op Twitter.