VF+: Bono skuld SAners 'n verskoning
2011-02-14 11:00
Johannesburg – Die Vryheidsfront Plus sê die Ierse popster Bono betree 'n Suid-Afrikaanse debat oor vryheidsliedere waarvan hy niks verstaan nie.
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Mulder, het gereageer op die herrie wat losgebars het nadat Bono in 'n onderhoud met die Sunday Times sou gesê het dat daar 'n plek is vir struggle-musiek soos "Skiet die boer."
Hy sê Bono toon duidelik geen begrip vir die Suid-Afrikaanse samelewing
se ingewikkeldhede en sensitiwiteite nie en hy skuld Suid-Afrikaners 'n
verskoning.
Mulder sê dit sal arrogant en voortvarend van hom as Suid-Afrikaner wees om hom uit te laat oor die ingewikkelde politieke konflik in Noord-Ierland.
Hy sê tog doen Bono as buitelander presies dit en bemoei hom in die Suid-Afrikaanse debat oor "Skiet die Boer"sonder om die vaagste benul te hê oor presies waaroor dit werklik handel.
Mulder sê Bono se teoretiese argument dat "Skiet die Boer" wel in 'n sekere konteks gesing mag word, is naïef en onaanvaarbaar.
– RSG
Volg Nuus24 op Twitter