VF+: ANC 'oneerlik' oor nasionalisering
2011-06-27 13:46
Kaapstad – Die Vryheidsfront Plus het die ANC daarvan beskuldig dat dié party
oneerlik is oor nasionalisering en het beweer dat die ANC die beleid van
nasionalisering en onteiening heimlik ondersteun ten spyte van die amptelike standpunt dat nasionalisering nie
ANC-beleid is nie.
Dit volg nadat die ANC in Noordwes hulle amptelik by die ANCYL geskaar het en die nasionalisering van myne ondersteun het.
Dit is die eerste geval waar ‘n orgaan van die ANC, buiten die jeugliga, sodanige beleid ondersteun, het dr. Conrad Beyers, VF Plus-woordvoerder oor finansies, gesê.
"Die ANC se beplande ekonomiese eksperimente ten einde ‘n verskerpte ekonomiese aanval op ‘n deel van die Suid-Afrikaanse bevolking te loods, kan skadelik vir die hele land sal wees, insluitende die armer deel van die bevolking."
Beyers het gesê die nasionalisering van kernbedrywe wêreldwyd word geassosieer met lande wat ekonomies nie die mas opkom nie.
"Die huidige onsekerheid oor nasionalisering skaad die ekonomie reeds deur die afskrik van beleggers, asook disinvestering."
Beyers is ook van mening dat Suid-Afrikaners hulle weerstand teen die ANC duidelik moet maak.
"Die ANC gaan nie by die nasionalisering van myne stop nie. Na die myne volg die plase, die banke en pensioene."
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24