‘Uur van waarheid’ breek aan vir Cope
2010-12-13 09:00
Die Burger
Kaapstad - Cope moet ophou voorgee om ’n enkele politieke party te wees – dit funksioneer in elk geval reeds ’n geruime tyd as twee afsonderlike eenhede.
Só het Sello Moloto, lid van die party se nasionale komitee (CNC), gister gesê.
“Ons het feitlik reeds twee partye. Dit is tyd dat Suid-Afrikaners die waarheid weet.”
Sy reaksie volg op ’n voorstel dat dié beleërde party in twee afsonderlike partye verdeel glo Vrydag voor die nasionale werkkomitee (NWK) gedien het.
Tweespalt heers in die party tussen ondersteuners van Mosiuoa Lekota, Cope-leier, en dié van Mbhazima Shilowa, onderleier.
Lede van die NWK is verdeeld oor die kwessie en het dit na die CNC verwys wat môre (Dinsdag) vergader.
As deel van die voorstel aan die NWK, wat glo deur Lekota-ondersteuners gedryf word, moet die verkiesingskongres wat vir vandeesweek beplan word, gekanselleer word.
Die Shilowa-groep is hewig gekant teen die voorstel, terwyl Philip Dexter, partywoordvoerder, aanvoer geen formele voorstel is gemaak nie.
Dexter het Shilowa in ’n verklaring daarvan beskuldig dat hy reeds sedert Junie voorberei vir ’n skeuring.
“Die suggestie dat dié voorstel van Lekota kom, is niks meer as die gewone spin van Shilowa nie.”
Hy het vroeër telefonies aan Die Burger gesê: “Hierdie is ’n storm in ’n glas water–hulle (die Shilowa-groep) beplan om hul eie kongres met hul eie afgevaardigdes te hou.”
Shilowa het die voorstel in ’n verklaring as ’n “desperate pleidooi” afgemaak en bestempel as nóg ’n poging deur die Lekota-kamp om die leiersverkiesing te vermy.
Lekota sal glo ingevolge die voorstel afstand doen van vier provinsies, waaronder Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap, terwyl Shilowa die res sal lei. Alle hulpbronne sal gelykop verdeel word.
“Die voorstel is verbluffend. Niemand wat werklik vir die party omgee, sal só ’n voorstel maak wat die party verder sal verswak nie.
“Die uur van waarheid het aangebreek. Hul verskonings om die kryt te vermy, is op.
“Ons wil hulle by die konferensie hê–ons het genoeg ondersteuning in al die provinsies vir die konferensie om plaas te vind,” lui Shilowa se verklaring.
Volgens Dexter gaan die voorbereidings vir die kongres gebuk onder ’n gebrek aan finansies, “hoofsaaklik weens die vermorsing van geld deur die onderleier”.
- Die party se jeugkongres begin Maandag in Bloemfontein.
- Die Burger