Universiteite: Te min plek vir eerstejaars
2009-12-09 07:45
Alet Rademeyer
Johannesburg. – Duisende voornemende studente sal volgende jaar na alternatiewe studiegeleenthede moet soek omdat verskeie universiteite nie plek het vir almal wat wil studeer nie.
Die Universiteite van Pretoria (UP) en Johannesburg (UJ) het vanjaar onderskeidelik sowat 30 000 aansoeke van nuwelinge vir volgende jaar gekry, terwyl hulle onderskeidelik net 8 900 en 13 000 eerstejaars kan akkommodeer.
By die UJ is sowat 9 000 studente reeds voorwaardelik aanvaar, onderhewig aan vanjaar se matriekuitslae.
Ook by die Universiteit van die Vrystaat (UV) is 13 787 aansoeke reeds vir volgende jaar ontvang teenoor die 11 800 wat verlede jaar ontvang is. Die UV kan ook nie naastenby al die aansoekers akkommodeer nie.
Die Noordwes-Universiteit het 6 030 aansoeke vir die Potchefstroom- en 5 500 vir die Mafikeng-kampus gekry, terwyl dit onderskeidelik 3 800 en 1 800 studente kan inneem.
Dr. Derek Swemmer, registrateur van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), het by navraag gesê die getal aansoeke vir eerstejaars vir volgende jaar het gestyg en staan nou reeds op 6 627.
Soos by die ander instellings het Swemmer gesê Wits sal nie skoolverlaters kan akkommodeer wat die universiteit eers begin volgende jaar vir plek gaan nader nadat hulle gesien het hulle het matriek geslaag nie.
Mohamed Shaikh, senior direkteur: kommunikasie en skakeling aan die Universiteit van Stellenbosch (US), het gesê die universiteit het tot op hede altesaam 7 000 suksesvolle aansoeke ontvang.
Daar was vanjaar altesaam 4 254 eerstejaars.
Volgens Shaikh word inskrywingsgetalle as ’n reël gedikteer deur die beskikbare infrastruktuur soos lesingsale, laboratoriums en die getal dosente.
Ook die US kan nie onbeperkte studentegetalle inneem nie.
- Die Burger