Unisa sê jammer ná wagte fotograaf aanrand
2011-08-24 15:23
Pretoria – Unisa is nog besig om sy eie inligting in te samel oor 'n voorval Dinsdag toe veiligheidswagte 'n Beeld-fotograaf by een van hul geboue aangerand het.
Die universiteit sal later meer inligting bekend maak, het woordvoerder Doreen Gough Woensdag gesê.
Volgens Peet Kruger, redakteur van Beeld, het die universiteit wel om verskoning gevra toe die voorval onder hul aandag gebring is.
Die Nasionale Persklub, Sanef en die Kaapstadse Persklub het intussen almal die voorval veroordeel.
Beeld het Dinsdag berig die fotograaf is deur ’n groep veiligheidswagte by ’n gebou van Unisa aangerand terwyl hy ’n verslaggewer vergesel het wat ondersoek wou instel na klagtes oor die lugreëling en slegte reuk in die gebou.
’n Veiligheidswag wou Alet Rademeyer, onderwysberiggewer, en Craig Nieuwenhuizen, fotograaf, nie toegang tot die Es’kia Mphahlele-gebou op die Sunnyside-kampus in Pretoria gee nie.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA