Unisa ondersoek aanval op fotograaf
2011-08-24 10:54
Pretoria – Die beweerde aanval op Craig Nieuwenhuizen, 'n Beeld-fotograaf, deur sekuriteitswagte by Unisa in Pretoria, word ondersoek, het die instansie Woensdag gesê.
Nieuwenhuizen is Dinsdagoggend deur 'n groep veiligheidswagte by 'n gebou van Unisa aangerand terwyl hy 'n verslaggewer vergesel het wat ondersoek wou instel na klagtes oor die lugreëling en slegte reuk in die gebou.
'n Veiligheidswag wou die onderwysberiggewer, Alet Rademeyer, en Nieuwenhuizen, nie toegang tot die Eskia Mphahlele-gebou gee nie.
Doreen Gough, woordvoerder, het gesê die universiteit sal Woensdagmiddag 'n verklaring uitreik.
"Die Universiteit van Suid-Afrika neem kennis van die struweling wat Dinsdag tussen die mediaspan van Beeld en Unisa-sekuriteitspersoneel op die Sunnyside-kampus plaasgevind het."
Die Kaapse Persklub het dié voorval veroordeel en gesê hy vertrou dat Unisa die feite rondom die voorval sal ondersoek en die nodige aksie teen die skuldiges sal instel.
"Unisa moet die boodskap uitstuur dat hulle die reg van die media om hul pligte uit te voer, respekteer en dat hy nie enige inbraak op dié reg sal duld nie."
Die koerant het intussen aangedui dat hy 'n klag by prof. Mandla Makhanya, vise-kanselier, van Unisa gaan indien.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het gesê hy steun dié besluit en het gevra dat kriminele aanklagte by die polisie aanhangig gemaak word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA