Unisa: 'Volg die protokol en verkry toegang'
2011-08-25 08:00
Pretoria – Die media se toegang tot die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) was nog nooit ’n kwessie nie, maar die nodige protokol moet gevolg word om ongelukkige voorvalle te vermy.
Dít was Woensdag dié universiteit se reaksie op die voorval waar ’n Unisa-veiligheidswag Craig Nieuwenhuizen, ’n Beeld-fotograaf, Dinsdag glo aangerand het toe Beeld ondersoek wou instel na klagtes van werknemers in die Es’kia Mphahlele-gebou.
Unisa het in ’n verklaring gesê kringtelevisiemateriaal oor die voorval is beskikbaar en verklarings is ook afgeneem.
Unisa het gesê al is die universiteit ’n openbare instelling met ruim toegang vir die publiek, is toegang nie vry nie. Beperkings word ingestel om personeel se veiligheid te verseker en die universiteit se eiendom te beskerm.
Luidens die verklaring word toestemming van die departement korporatiewe kommunikasie en bemarking in die algemeen vereis om Unisa se eiendom binne te gaan. Beeld het nie toestemming versoek nie.
Volgens Unisa was daar Dinsdag ’n klein voorval in die Es’kia Mphahlele-gebou wat tydelike ontruiming genoodsaak het. Om die personeel se veiligheid te verseker is veiligheidspersoneel beveel om toegang tot die terrein te beperk.
Talle personeellede het Beeld Dinsdagoggend gebel om te kom kyk onder watter “haglike” omstandighede hulle in die Es’kia Mphahlele-gebou werk.
Beeld het verneem daar was ’n kortsluiting wat die rookalarms geaktiveer het en ’n reuk het in die gebou gehang.
Die departement van arbeid het verlede week ’n kennisgewing aan Unisa beteken omdat die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid nie nagekom is nie. Die departement het gesê ingevolge omgewingsregulasies vir die werkplek is daar te min vars lug. Unisa is verbied om die lugreëling te gebruik totdat dit herstel is.
Die nasionale redakteursforum (Sanef) en die nasionale persklub het die beweerde aanranding veroordeel.
Gerhard Pretorius berig ao. Annabel Middelton, polisiewoordvoerder, het gesê Nieuwenhuizen het ’n aanrandingsklag teen die wag by die Sunnyside-polisiekantoor geopen en die wag een teen Nieuwenhuizen omdat Nieuwenhuizen hom met pepersproei gespuit het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld