Umalusi gereed vir matriekeksamen
2011-10-19 11:09
Johannesburg – Alle stelsels en prosesse vir die matriekeksamen is in plek en tekortkominge is geïdentifiseer, het Umalusi, die raad vir gehalteversekering in onderwys, gesê.
"Umalusi het die stand van gereedheid in Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Oos-Kaap, Limpopo, Noordwes en die Vrystaat, sowel as die privaat assesseringsliggame gemonitor," het dr. Mafu Rakometsi, bestuurshoof van Umalusi, in Johannesburg gesê.
"Umalusi modereer die vraestelle om te verseker dat dit aan die verlangde standaarde voldoen en regverdig en betroubaar is."
Rakometsi het gesê Mpumalanga sal tydens vanjaar se matriekeksamen streng gemonitor word omdat dié provinsie weer die administrasie van die eksamen behartig.
Die departement van basiese onderwys het verlede jaar die bestuur van die matriekeksamen in Mpumalanga oorgeneem om ongeruimdhede wat vorige jare in die provinsie gesien is, te verhoed.
Umalusi moet nog die merk en standardisering van eksamens verifieer.
Rakometsi het gesê Umalusi sal dié proses tussen 21 en 23 Desember doen.
Die goedkeuringsvergadering vir die bekendmaking van die uitslae van die nasionale eksamen sal op 30 Desember plaasvind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA