'Uitspraak maak Malema dalk sterker'
2011-09-13 08:30
Johannesburg – Die uitspraak in die haatspraakverhoor van Julius Malema, ANC-jeugleier, kan sy politieke posisie versterk, het Max du Preez, politieke ontleder en skrywer, gesê.
Die gelykheidshof hier het die woorde dubula iBhunu (skiet die Boer) Maandag tot haatspraak verklaar. Dit kan hom volgens Du Preez verhef tot “vryheidsvegter wat deur die wit regstelsel stilgemaak word. Hopelik is daar nie ’n vreeslike teenreaksie van swart mense wat voel jong swart mense word gesensureer nie.”
Die beslissing is verwelkom deur onder meer die Instituut vir Rasseverhoudinge, die VF+, die Cope-jeugliga, die Afrikanerbond en die vakverbond Fedusa.
Die Instituut vir Vryheid van Spraak en politieke ontleders het egter hul kommer uitgespreek oor die impak van die beslissing op Suid-Afrikaners se grondwetlike reg op vryheid van spraak.
Du Preez het gesê hy het “gemengde gevoelens” oor die uitspraak. “Ek wou hê die man moet in die bek geruk word, want hy het meer verdeeldheid gesaai as enigiemand in die 20 jaar voor hom.
“Ek het wel my voorbehoud oor die impak hiervan op vryheid van spraak. Ek is bang om die pad te stap waar ons mense later gaan beperk en hulle dan nie kan sê wat hulle dink nie.”
Aubrey Matshiqi, ’n politieke ontleder, het gesê hy stem nie saam met regter Colin Lamont se beslissing nie. “Ek verstaan mense se gevoelens word seergemaak deur die lied, maar is dit genoeg rede om ’n lied of simbool tot haatspraak te verklaar?”
Volgens Matshiqi is nie álle weergawes van die lied haatspraak nie en moet die definisie van haatspraak, soos vervat in die Gelykheidswet, heroorweeg word.
Die SAKP het die beslissing afgemaak as ’n poging van “regse fanatici” om die land se geskiedenis te herskryf. “Die beslissing is nie teen kameraad Malema nie, maar teen die kollektiewe en ryk geskiedenis van die vryheidstryd.”
Die vakbond Numsa het gesê AfriForum, die VF+ en ander “eendersdenkende bitterbek-organisasies” hardloop na die howe om vryheidsliedere te verban.
“Daar is ’n diep gewortelde haat en irritasie in sommige sektore van ons gemeenskap teenoor Malema. Mense moet die ANC-jeugleier se ideologiese standpunte betwis en ons vryheidsliedere uitlos,” het Numsa in ’n verklaring gesê.
Frans Cronjé, uitvoerende adjunkhoof van die SAIRV, het gesê hy glo die uitspraak sal ’n positiewe uitwerking hê op rasseverhoudinge in Suid-Afrika. “Dit stuur die boodskap uit dat dit onaanvaarbaar is om minderheidsgroepe se regte te skend en dat daar gevolge sal wees indien jy dit doen.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad