Uitslag triomf vir verligte Malema
2011-12-19 10:01
Polokwane. – Limpopo se premier, Cassel Mathale, is Sondag met ’n meerderheid van 53% as ANC-voorsitter in die provinsie herkies.
Dit is ’n terugslag vir pres. Jacob Zuma en ’n oorwinning vir die geskorste ANC-jeugleier, Julius Malema, se pogings om Zuma as ANC-leier te ontsetel en met adj.pres. Kgalema Motlanthe te vervang.
Motlanthe, wat Saterdag die hooftoespraak gelewer het, het soos Malema ’n helde-ontvangs gehad van die meer as 1000 afgevaardigdes in die Onkgopotse Tiro-saal op die Universiteit van Limpopo se kampus buite Polokwane.
Afgevaardigdes het sy boodskap om nie in blokke te stem nie, egter geïgnoreer en Zuma-teenstanders is met bykans soortgelyke meerderhede in alle poste verkies.
Ná die aankondiging dat Mathale, ’n hegte bondgenoot van Malema, met 601 stemme teen 519 gewen het teen die Zuma-ondersteunende kandidaat, dr. Joe Phaahla, het Malema verlig en vol selfvertroue voorgekom.
Op pad uit die saal het hy by die hoofingang gaan stilstaan, met sy vuis in die lug gepomp en saam met ondersteuners gesing en gedans voordat hy in ’n motor geklim het wat weggejaag het.
Malema handhaaf ’n hoë profiel op die konferensie, en het – baret en al – Saterdag in die voorste ry op die verhoog gesit.
Malema-ondersteuners op die konferensie was dit eens dat Mathale se oorwinning ’n lewensboei vir Malema is, en ’n aanduiding dat Zuma volgende jaar ontsetel kan word.
Nadat die uitslag aangekondig is, het ’n groep vroue by die hoofingang van die universiteit uitbundig liedjies teen Zuma gesing, terwyl hulle op fluitjies geblaas het.
“O le mene mene wena, Shower. Orekisitse Malema!” het hulle gesing. Dit beteken: “Jy is ’n uitverkoper, Stortkop. Jy het Malema uitverkoop!”
Ondersteuners van Phaahla (en dus van Zuma) was galbitter oor die uitslag en het aangevoer dis ’n verneukery.
Ondersteuners van Mathale het dit egter as suur druiwe afgemaak en gesê die premier is herkies omdat hy so hardwerkend is.
Die uitslag van die leiersverkiesing het verwagtinge laat toeneem dat Malema-ondersteuners ook ’n mosie ten gunste van nasionalisering, en ’n mosie teen ingryping van die nasionale regering in die bestuur van provinsies deur die konferensie aanvaar sal kry.
Die konferensie duur nog tot Dinsdag.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad