Uitslae-bedrog bekyk
2011-12-29 10:18
Johannesburg – Die uitslae in ses vakke in die N1- tot N3-kursusse wat deur kolleges vir verdere onderwys en opleiding aangebied word, kan nie bekend gemaak word nie hangende ’n polisie-ondersoek na ernstige ongerymdhede.
Dr. Sizwe Mabizela, voorsitter van die raad vir gehalte-versekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi), het gister op ’n mediakonferensie gesê die ondersoek is in ’n baie sensitiewe stadium.
Gwebs Qonde, direkteur-generaal van hoër onderwys, het by navraag gesê mense betrokke by die ongerymdhede sal spoedig gearresteer word. Hy meen nie kandidate sal daardeur benadeel word nie en sal hul uitslae hopelik gou kan kry.
Die vakke waarvan die uitslae ondersoek word, is elektriese handelsteorie (N2), industriële elektronika (N2), elektrotegnologie (N3), ingenieurswetenskap (N3), wiskunde (N3) en megano-tegnologie (N3).
Umalusi het gister die bekendmaking van ’n verskeidenheid uitslae deur die departement van hoër onderwys en opleiding in Pretoria goedgekeur. Dit is die uitslae vir die nasionale beroepsgerigte sertifikaat (NCV), die algemene onderwys-en-opleidingsertifikaat vir volwassenes (Abet 4) en die N1- tot N3-kursusse. Behalwe vir die ongerymdhede in laasgenoemde kursusse, meen Umalusi daar was geen ander voorvalle wat die eksamens en die gehalte en geloofwaardigheid daarvan in die gedrang gebring het nie.
Umalusi het sy standaardiseringsbesluite in dié uitslae gister vir die eerste keer bekend gemaak en presies verduidelik met hoeveel punte elke vak op- of afwaarts aangepas is en in hoeveel die onverwerkte punte behou is.
Die standaardiseringsbesluite is ná groot druk verlede jaar die eerste keer vir die nasionale senior sertifikaat (matriekeksamen) bekendgemaak.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld