‘Uitreiking nodig oor Afrikaans’
2010-01-29 07:25
Liesl Peyper
Stellenbosch - Groter uitreiking en inklusiwiteit is nodig wanneer weer in die toekoms oor die stand van Afrikaans vergader word.
Met dié woorde het oudpres. F.W. de Klerk gister se beraad oor die toekoms van Afrikaans op universiteitsvlak afgesluit.
Die byeenkoms – wat deur die F.W. de Klerk-stigting gefasiliteer is – het op die Vredenheim-wynlandgoed naby Stellenbosch plaasgevind.
De Klerk het ná afloop van die sowat agt uur lange verrigtinge erken die beraad was nie voldoende verteenwoordigend van die breër Afrikaanssprekende gemeenskap in Suid-Afrika nie.
Onder die nagenoeg 60 belanghebbendes uit akademiese, burgerlike en kulturele kringe wat die beraad bygewoon het, was net drie bruin afgevaardigdes.
De Klerk het hom aangesluit by mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA). Van der Rheede het in sy spreekbeurt gevra ’n groter spektrum van Afrikaanssprekendes moet in die toekoms by gesprekke oor die taal betrokke wees.
“Wie se belange dien ons nou eintlik? Ons kan net die taal red wanneer ons die mense red,” het Van der Rheede gesê.
De Klerk het in sy inleidingstoespraak erken die taalberaad het groot omstredenheid ontlok.
“Ek het baie klappe gekry – sommige was ook verdiend,” het hy gesê met verwysing na die feit dat rektore van voormalige Afrikaanse universiteite aanvanklik nie na die beraad genooi is nie.
“Dit was nalatigheid aan ons kant, maar ek is bly ons het hulle uiteindelik genooi.”
Die stemming onder die groep aanwesiges was aanvanklik ietwat stram, maar het uiteindelik op ’n hoopvolle en positiewe noot geëindig.
De Klerk het die gees waarin die verrigtinge plaasgevind het, soos volg opgesom: “Ek was bang ons sou met ’n gevoel van frustrasie huis toe gaan. Maar ek meen ons het almal eerder nuwe moed geskep. Ons het wegbeweeg van die onderlinge konfrontasie oor ’n saak waaroor ons eintlik saamstem.”
Hy het benadruk die debat oor die stand van Afrikaans op onderwysvlak is geregverdig.
Diegene wat die beraad bygewoon het, is dit ook eens Afrikaans verdien saam met die ander inheemse tale – “ook Engels as wêreldtaal” – sy regmatige plek.
- Die Burger