Uitlatings oor Christenskap 'n 'misverstand'
2011-12-21 19:30
Johannesburg – Die presidensie het Woensdag pres. Jacob Zuma se uitlatings oor Christenskap verdedig.
Dít volg nadat Zuma tydens die bekendstelling van 'n padveiligheidsprogram in KwaZulu-Natal, gesê het Christenskap het die bestaan van weeskinders en ouetehuise teweeggebring, het The Times Woensdag berig.
"As Afrikane het ons ons eie manier gehad van dinge doen, lank voor die koms van godsdiens en die Bybel," het Zuma in sy toespraak by die bekendstelling gesê.
"Dit is die tye waarna godsdienstige mense verwys as die donker tye, maar ons weet dit was die tye waar daar geen weeskinders of ouetehuise was nie. Christenskap het al hierdie dinge teweeggebring," het hy gesê.
Die presidensie het gesê Zuma het die punt gemaak terwyl hy die advent van die Westerse kultuur verwelkom het, maar gesê die tradisionele manier van dinge doen word ondermyn.
Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het gesê die berig was "misleidend".
Maharaj het gesê die president het isiZulu gepraat en het idiomatiese uitdrukkings gebruik, wat dalk die misverstand veroorsaak het.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter