Uitkenningsparade ontstel slagoffers
2011-10-28 09:00
Bloemfontein – Die slagoffers van die wrede aanval op Jagersfontein 18 maande gelede was baie emosioneel toe hulle van die verdagtes weer op ’n uitkenningsparade gesien het, het kapt. Francois Laux van die Valke Donderdag in die Vrystaatse hooggeregshof getuig.
Tienie van Vuuren (36) het begin huil toe hy Molefu Ishmael Penethe (27) agter die eenrigting-glas sien en gesê dit is die man wat hom aangerand en met ’n mes gesteek het.
“Hy het begin bewe en baie gehuil en gesê hy kan die gesig nie vergeet nie,” het hy in ’n verhoor binne ’n verhoor voor regter Corné van Zyl getuig.
Sy pa, Boet (82), was ook baie emosioneel toe hy Penethe sien en uitwys as die een wat hom ook gesteek het.
Sy ander seun, Marius (45), was net so emosioneel soos die ander twee toe hy Penethe en Lebohang Saul Jan (23) uitgeken het, het hy getuig.
Penethe en Jan, albei van Jagersfontein, ontken dat hulle die Sondagaand van 1 Maart verlede jaar R38 000 se kontant, ’n rewolwer, kamera en twee selfone van die gesin geroof het nadat hulle na bewering by die huis in Harringtonstraat ingebreek het.
Hulle ontken ook skuld op vier aanklagte van poging tot moord.
Boet van Vuuren se vrou, Francina (76), is vandag presies ’n jaar gelede dood. Sy het blykbaar nooit heeltemal van dié aanval herstel nie.
’n Verhoor binne ’n verhoor word gehou nadat adv. Oupa Ma-khene en Leona Smit namens die twee beskuldigdes die geldigheid van die uitkenningsparade en uitwysings wat Penethe op Jagersfontein gemaak het, in twyfel getrek het.
Hulle meen die uitkenningsparade op 27 Maart vanjaar in die Mangaung-polisiekantoor is nie behoorlik gehou nie.
Net een polisiebeampte was teenwoordig en die beskuldigdes is vroeër deur die slagoffers gesien. Hul regsverteenwoordigers was ook nie teenwoordig toe dit gehou is nie.
Makhene het ook gesê Penethe wou nie uitwysings doen nie en is daartoe gedwing.
Aan hom is gesê die inligting wat hy sou verskaf, sou in ’n rekenaar ingevoer word, wat dit sou ontleed en dan bepaal of hy betrokke was, of nie.
Laux het getuig al die verdagtes wou regsverteenwoordigers op die uitkenningsparade hê.
Die ondersoekbeampte het vir hom gesê hul regsverteenwoordigers is in kennis gestel van die parade en dat hulle op pad is.
Hy het twee uur lank vir hulle gewag, toe gaan hy sonder die regsverteenwoordigers voort.
Hy het gesê op uitkenningsparades moet hy altyd vir die regsverteenwoordigers van verdagtes wag, want hulle is altyd laat.
Die verhoor duur voort.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad