Ministerie se uitgawes skiet die hoogte in
2011-08-13 07:12
Kaapstad – Die uitgawes van die ministerie van vervoer het in die afgelope vier boekjare die hoogte ingeskiet – van R11,2 miljoen tot R38,3 miljoen.
Die grootste toename het onder die politieke leierskap van die huidige minister, S’bu Ndebele, plaasgevind.
Ndebele het gister in antwoord op ’n skriftelike vraag in die parlement gesê die vergoeding van personeel het die ministerie in die boekjaar 2007-’08 altesaam R5,2miljoen gekos.
In 2009-’10, toe hy minister geword het, het dié uitgawe tot R12,3 miljoen en in 2010-’11 tot R13,3 miljoen toegeneem.
Die ministerie het in 2007-’08 sowat R5,8 miljoen aan goedere en dienste bestee. Nadat Ndebele aangestel is, het dit in 2009-’10 tot R19,1 miljoen gestyg. In die boekjaar 2010-’11 het dit verder tot R24,3 miljoen toegeneem.
Die DA, wat die vraag gestel het, het gister sy ongeloof oor die uitgawes uitgespreek.
Stuart Farrow, DA-woordvoerder oor vervoer, het gesê: “Dit is skokkend. Daar is geen aanduiding dat meer personeel in diens geneem is nie.
“Ons het nou presies die inligting wat ons wou hê. Die DA gaan opvolgvrae by die parlement indien. Ons soek ’n verduideliking.”
Ndebele het gesê uitgawes in die 2010-’11-boekjaar sluit in R1 miljoen vir advertensies, R1,6 miljoen vir telefone, R5 miljoen vir vervoer, R5 miljoen vir plaaslike reise en verblyf en ’n bykomende R9 miljoen vir oorsese reise en verblyf.
’n Verdere R3 miljoen is volgens hom in die 2009-’10-boekjaar aan die kantoor van adjunkminister van vervoer toegeken. Dié pos is deur pres. Jacob Zuma geskep toe hy sy kabinet in 2009 aangekondig het.
Ndebele het gesê sy reisuitgawes in dié boekjaar was aansienlik hoër as wat begroot is omdat hy meer moes reis op uitnodiging van Zuma en internasionale rolspelers.
In die daaropvolgende boekjaar is daar groter voorsiening gemaak vir dié uitgawe.
Logan Maistry, Ndebele se woordvoerder, het ter verduideliking gesê ’n deel van die toename in uitgawes is toe te skryf aan die kantoor van die adjunkminister van vervoer wat op die been gebring moes word.
“Openbare deelname is baie belangrik vir die regering en die minister moet die lengte en breedte van die land kan deurkruis.
“Boonop kos dit duurder om sake te doen as in 2007, wat natuurlik ook in ag geneem moet word.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger