UJ-slagoffer se seun aangemoedig om hard te studeer
2012-01-21 16:32
Johannesburg – Die minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Blade Nzimande, het die seun van die vrou wat tydens die stormloop by die Universiteit van Johannesburg dood is aangemoedig om hard te studeer, ter ere van sy ma, het die SABC berig.
Nzimande het Saterdag by die begrafnis van Gloria Sekwena (47) in Kagiso in die weste van Johannesburg gepraat.
Die Gautengse premier, Nomvula Mokonyane, het haar ondersteuning aan die familie gebied en vervoer vir die roubeklaers, sowel as beradingsdienste, gebied, het die uitsaaier gesê.
Sekwena se kis is in die middel van die roubeklaers geplaas in die Lady of Peace-kerk en is met blomme omring, met ‘n geraamde foto van haar wat daar naby geplaas is, het die SABC berig.
Familielede het gepraat oor Sekwena se behoefte om te sien dat haar seun ‘n goeie opvoeding kry.
Volgens die SABC het Sekwena by dieselfde universiteit ‘n graad in verpleegkunde ontvang.
Sekwena is twee weke gelede op die kampus dood toe sy saam met haar seun gegaan het om deur die aansoekproses te gaan.
Die bestuur van die universiteit het aangebied om vir haar seun se studies te betaal indien hy toelating by die universiteit kry.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA