Storm woed oor Kaapse bruin vroue
2011-02-28 11:51
Kaapstad – 'n Storm het die afgelope naweek op die sosiale netwerk Twitter losgebars oor die joernalis en TV-aanbieder Kuli Roberts se rubriek oor Kaapse bruin vroue wat in 'n Sondagkoerant verskyn het.
In haar rubriek, Jou ma se kinders, wat in Sunday World verskyn het, sê Roberts hoekom sy na Kaapse bruin vroue verlang.
"Jy sal altyd verseker wees van 'n groot gesin; baie van die meisies teel asof Allan Boesak hulle gestuur het om die bruin ras te vermeerder.
"Hulle hoef ook nie duisende rande vir hul hare uit te haal nie; baie van hulle het lang gladde hare...
"Hulle het geen voortande nie en eet vis asof hulle die see gaan uitput."
Sy het verder gesê: "Natuurlik mis ek Kaapse bruin mense. Watter ander ras wat jy ken is meer behep met naai masjiene, o, en bedoel nie naaimasjiene nie."
Ferial Haffajee, redakteur van City Press, was een van die mense wat teruggekap het oor dié aanmerkings.
Haffajee het Maandag in 'n onderhoud met Talk Radio 702 gesê sy het "aanstoot geneem" en is baie kwaad oor die uitlatings wat Roberts in die rubriek kwytgeraak het.
"Ons moet iets daaromtrent doen... Dit is rasse-stereotipering, en as mens kyk na dit wat tans in die land gebeur moet ons sekerlik ons stem dik maak daaroor."
"As (David) Bullard in die pad gesteek is vir rassisme, moet Avusa Kuli Roberts afdank. Sunday World-rubriek. Rassisties, gemeen," het Haffajee op haar Twitter-blad geskryf.
Ander Twitter-gebruikers het ook uitgevaar teenoor Roberts.
juanitaw het geskryf: "#Kuli wys nie net haar onkunde mbt bruin mense nie, maar ook 'n gebrek aan skryfvaardighede. Hoe het die rubriek in die koerant gekom?"
gaynor_kast het geskryf: "Ons kan nie en moenie sulke blatante rassisme duld nie".
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24